AANDETE - TEATER

Wie onthou die glorie-dae van Hillbrow, Yeoville en Kalkbaai toe jy en jou metgesel nog kon uitgaan na 'n plek vir ʼn elegante aandete terwyl julle kyk hoe ʼn jong Amanda Strydom, Elzabe Zietsman of Johannes Kerkorrel hul eerste treë op die kabaretverhoog gee? Dis ʼn konsep wat byna uitgesterf het in Suid-Afrika.  Sedertdien was “aandete vermaak” aangebied deur baie “teaters” waar die kos maar meestal baie elementêr en hoogstens gemiddeld was of restaurante met beperkte of geen teaterfasiliteite nie.

By DIE BOER restaurant teater laat herlewe ons “aandete-teater” op sy  beste. Ja dis reg! - in die hartjie van Durbanville is daar nou  'n tuiste vir die uitvoerende kunste binne die “ambience” van ʼn top restaurant en ʼn volledig toegeruste klein-teater. Dis ʼn venue vir die kieskeurige musiek- en teater liefhebber wat ʼn “1-stop” aand met gehalte kos en top vermaak wil hê.

HOE WERK DIT?
Die BOER is aandete-teater in die ware sin van die woord. Bespreek ʼn tafel en hy is joune vir die hele aand. Daar is geen pilare of ander obstruksies in die pad nie. Ons deure maak oop vanaf 18:30 vir aandete en vertonings begin om 20:30. Bestel vanaf ʼn  a’ la carté spyskaart, kies ʼn goeie wyn vanaf ons uitstekende wynlys, geniet die vertoning, wat gewoonlik tussen 60 tot 90 min duur en kuier daarna so lank as wat jy wil.

Omdat ons ʼn kwaliteit teater ervaring aan ons gaste wil gee, bedien ons gewoontlik nie kos of drank gedurende die vertonings nie. As jy voor die tyd wil eet moet jy asb op die laatste teen 19:15 reeds by ons wees. Ons is byna altyd vol bespreek en kan ongelukkig nie bestellings vir kos neem na 19:30 vir etes VOOR die vertoning nie. Jy is natuurlik welkom om na die tyd te bestel en rustig die vertoning oor aandete te bespreek.

MOET EK BESPREEK?
Mense kan natuurlik 'n "kans vat" en net opdaag by die deur en as daar plek is, sal ons hulle met graagte akkommodeer. Dit is egter raadsaam om eerder te bespreek om ʼn tafel te verseker. Kaartjiepryse wissel na gelang van die vertonings en kan bespreek word aanlyn by www.dieboer.com  of telefonies by (021) 979 1911. Kaartjies is vooraf betaalbaar d.m.v direkte bankbetaling, kredietkaart of by die teater self tussen 10:00 en 16:00 weeksdae en Saterdae vanaf 13:00 tot 19:00


HOEKOM "DIE BOER"?
Ons wil onmiddelik al die beswaardes gerusstel! Die naam het regtig NIKS met politiek te doen nie. Laat ons verduidelik:

Die naam was die resultaat van baie debat en nog meer rooiwyn. Ons (as eienaars) wou eerstens ʼn tuiste vir die kunste skep. Tweedens wou ons dit ʼn definitiewe Afrikaanse identiteit gee. Ons het opgelet dat in die Durbanville omgewing, met sy hoofsaaklik Afrikaanssprekende gemeenskap, daar byna 30 restaurante was, waarvan omtrent geen een ʼn Afrikaanse naam gehad het nie.  

Voordat die term “die BOER” deur die geskiedenis, en sekere groepe in ons land gekaap is, het dit “the FARMER” beteken. ʼn Boer is iemand wat die landerye bewerk, die elemente moet trotseer en die grond moet koester om in ʼn gemeenskap se mees basiese behoefte - kos, te voorsien. Ons grond en ons land is (lank voor 1652 en sedertdien) gekoester deur boere van alle kleure en alle geure.

As Afrikaansprekendes voel ons dat die taal groot geword het en dat dit nou vry behoort te wees van al die “jukke” wat die geskiedenis daarop geplaas het. Ons eis hiermee die naam “die BOER” terug vir ALLE Afrikaanssprekendes in die land. Die Boer is  ʼn  nie-rassige, “inklusiewe” en vreedsame tuiste vir die kunste, waar ons nietemin trots is om Afrikaans te ondersteun. Soos die boer die grond koester, so wil ons ons kliënte, ons kuns en ons kultuur koester.

MOET EK EET?
Die Boer is ʼn restaurant en ons verwag van ons gaste om te eet indien ʼn tafel bespreek word. Kaartjiegelde wat vooraf betaalbaar is, gaan uitsluitlik aan die kunstenaar en in baie gevalle moet die koste gesubsidieer word uit die inkomste van die restaurant. Ons enigste inkomste kom vanaf kos en drank verkope. Om ʼn  venue soos die Boer lewensvatbaar te maak, is dit noodsaaklik dat ons gaste ons restaurant ondersteun sodat ons kan voortgaan om die top kunstenaars wat tot dusver hier opgetree het, terug te bring.

Indien u NIE wil eet nie, kan u op n waglys geplaas word. Indien ons NIE vol bespreek is met gaste wat wil eet nie, sal ons u terugbel en kan u ʼn tafel bespreek. Daar is ook beperkte sitplekke by ons kroeg beskikbaar vir diegene wat NIE wil eet nie.

KAN EK ROOK?
Omdat die BOER ʼn restaurant is, is ons volgens wet ʼn rookvrye venue tensy ons ʼn spesiale area sou afskort met glasmure en lugversorgers. Om dit in die Boer te doen sou die uitstekende akoestiek, waaraan ons so hard gewerk het, vernietig. So - ‘skuus’ aan al die rokers. Op die oomblik is ons rookarea buite, maar ons werk daaraan om ʼn “meer gemaklike” rookarea te skep.
 
 Forgot Password