RAY DYLAN SE “REG HIER IN DIE MIDDEL” TREF PRESIES DIE REGTE AKKOORD IN ‘N RYKE VERMENGING VAN EMOSIE EN MUSIEK
Ray Dylan is reeds ferm gevestig as een van Suid-Afrika se gunsteling stemme en sy nuutste album, “Reg hier in die middel” – met hartslirieke, kraakvars melodieë en meesleurende ritmes - maak dit opnuut duidelik waarom! Die album is ‘n samestelling van 13 snitte met ‘n geur wat eg Ray Dylan is: ‘n mengsel van pop, rock en selfs ‘n bietjie country met sterk, kenmerkende kitaarlyne en harmonieë wat ekstra diepte en betowering aan elke snit verleen.
Ray en sy span het penne saamgespan om ‘n wye reeks gevoelens en oomblikke op papier en in musiek vas te lê: van verlies, verraad, ‘n liefde wat nie bestem is om te werk nie en die “te laat doen en sê” van die regte dinge, tot ligter luim lekker partytjie-naweke, die ontmoet van die een wat jou voete met die eerste oogopslag onder jou uitslaan en die vind van ‘n pasmaat wat net vir jou gemaak is.
“Reg hier in die middel” sing van al die goed wat soos vuur in ‘n man se hart brand – van rustige-luim snitte soos die titelsnit, “Ons skip sal kom” en “Ek sal jou moet laat gaan” tot liedjies soos “Warm girls en koue bier”, “In lewende lywe”, “Te goed om waar te wees” en “Loop soos heuning oor my” wat dit duidelik maak dat hulle uitgeknip is vir ‘n draai of tien op die dansvloer!
“Hierdie skoen gaan pas”, Ray se duet met die gewilde nuweling, Brendan Peyper, staan ook uit as ‘n prettige, voetstamp-treffer wat menige harte sommer in ‘n japtrap sal verower!