BAANBREKERS IN DIE SUID-AFRIKAANSE MUSIEKBEDRYF
DIE HEUWELS FANTASTIES het beslis geen bekendstelling nodig nie, want dié musiekgroep het reeds van die begin af die musiekwêreld aan hulle voete. Nie net is hulle die eerste suksesvolle Afrikaanse Alternatiewe Pop-rockgroep in die land nie, maar hulle word ook beskou as musiekbaanbrekers van hulle generasie. Die groep beskryf die aanslag van hulle werk as “melodieus, geskryf met ’n akoestiese kitaar en geïnterpreteer met elektroniese en organiese instrumente”.
DIE HEUWELS FANTASTIES is in 2008 gebore toe Hunter Kennedy (tans en voorheen betrokke by
Fokofpolisiekar en voorheen lid van
aKING) en Pierre Greeff (voorheen betrokke by Lukraaketaar) se onderskeie musiekgroepe besluit het om ’n blaaskans te vat. Supra Familias, hulle eie platemaatskappy, is gedurende dieselfde tyd gestig. Die
band bestaan tans uit Hunter Kennedy (sanger, liedjieskrywer en baskitaar), Pierre Greeff (sanger, liedjieskrywer, bestuurder en akoestiese kitaar) en Frederick den Hartog (hoofkitaarspeler). Sheldon Yoko het onlangs by hulle aangesluit as dromspeler. Oor waar die groep se naam vandaan kom, sê hulle:
“Ons wou byvoorbaat ’n naam kry wat niemand sou vervreem nie en eerder sal laat lekker voel. Dit is ook ’n verwysing na die plek waar ons groot geword het... Bellville en Durbanville se heuwels.”
Die groep was ’n kitssukses en het, sedert hul ontstaan, reeds hulle unieke energieke stempel afgedruk by al die grootste Suid-Afrikaanse muskiekfeeste soos Aardklop, KKNK, OppiKoppi en Innibos en ook die verhoog gedeel met van die land en wêreld se bekendstes, waaronder Kings of Leon vir wie hulle in 2012 geopen het. Hulle het ook oorsee getoer in lande soos Nederland, België en Engeland (2010 en 2015). Elke denkbare noemenswaardige musiektoekenning in Suid-Afrika, van Ghoemas en Tempo’s tot SAMAS en vele meer, pronk reeds op hulle kerfstok, om nie eers te praat van die prestasies wat van hulle enkelsnitte al behaal het nie. Die groep se debuutalbum,
Die Heuwels Fantasties, tweede album,
Wilder as die Wildtuin, en derde album,
Alles wat Mal is het in ’n baie kort tydjie goue verkoopstatus bereik.
Wens jy was hier, wat
Alles wat Mal is, vyf nuwe snitte en ’n DVD (
Live op Paul Cluver wat in Mei 2013 uitgereik is om hulle lewendige optredes vas te vang) insluit, is later uitgereik en het reeds op die dag van bekendstelling die nommer 1-posisie op iTunes beklee. ’n Langspeelplaat met hulle grootste treffers,
Liedjies vir die Draaitafel, asook hulle vierde album,
Ja.Nee.Lekker. het in 2014 gevolg en is ook baie goed deur die publiek en radiostasies ontvang.
Buiten vir talle benoemings, toekennings en radiotreffers, geniet
DIE HEUWELS FANTASTIES se musiekvideo’s ook groot sukses op sosiale media en is die liedjie,
Ballade vir ’n Enkeling (wat in 2015 deur die groep opgeneem is as temalied van die fliek met dieselfde naam), al deur bykans een miljoen mense op YouTube gekyk, terwyl
Doen Net Wat Ons Wil saam met Riana Nel reeds meer as 500 000 kykers bereik het. Die aangrypende getoonsette gedig,
Stilte, is ook al deur meer as 100 000 luisteraars op SoundCloud geluister.