Dit gaan "rock'ntjank"wees sê die aweregse Al'astair singer - songwriter-diggieman, en ook skrywer van gereelde "komiese Liefie-stories oor die girl met die kort rokkie op die apteek se parkeerterrein", van sy "resussitasie show", op Saterdagaand 16 Junie 2018 in Die Boer, Durbanville.
Hierdie "erg onbedaarde en lang-behaarde" kid uit die 60's" , het met sy treffer-songs "My hond Fanie", "Lank, lank gelede" (".. nog voordat Rooikappie en die wolf mekaar gegryp het.... in die Knysna-bosse.." ) en "As jy staan op die maan", bekendheid verwerf.
Al drie songs het volksbesit geword, en "Lank lank gelede" en "As jy staan op die maan" was beide vir lank op die top tien asook nommer een op Bay FM- asook internet- treffersparades.
Al' en sy Pêlle was ook 'n groot treffer op die KKNK in die vrooër 2000' s, en gereelde lugtyd op RSG en Bokradio asook TV verskynings op Geraas, Kyknet, Emo se Show, Jukebox en Kanaal 46 het later gevolg.
Al'astair het sedert 2011 "net laag gelê en niemand gehinner nie".
Hy sê dit was 'n hinderlaag voor die komende show in Die Boer, nadat sy linkerhand deels verlam geraak tydens 'n huiskonsert in 2011 en "ek daardie aand nuwe note geskep het."
Sestien skroewe en vier plate en sewe jaar later is sy nek so effe styf (maar nie sodat jy dit kan sien nie en "deesdae is enige styfgeite vir my ' n bonus" , sê hy), maar sy vingers kan nou weer alle nodige dinge doen soos vroeër.
Al'astair het drie dekades gelede afgeskop met sy bundel My hond Fanie, en dit later opgevolg het met die bundel Blou Trane. Beide bundels is keurig verwerk en versorg.
Meer besonderhede asook' n hele klomp songs asook musiekvideo's van hierdie eksentrieke kunstenaar kan gevind word by www.rockntjank.co.za